Kom ek deel met jou so ’n bietjie “anderse” vertelling van die Evangelieboodskap hierdie feesseisoen.
‘n Jong soldaat was alleen in sy tent een Sondagoggend in 'n oorlogsone.
Dit was stil daardie oggend … om een of ander rede, was daar geen mortiere en veraf geweerskote hoorbaar nie.
Die soldaat het net geweet dis ‘n Sondag. ‘n Mens voel dit mos aan, daar is altyd iets anders, iets heiligs, aan die Sondag.
Toe haal hy ‘n verweerde pak kaarte uit en sprei dit oop op sy bed.
Net toe kom ‘n sersant in, sien die kaarte en vra: “Is jy nie saam met die ander manne uit vandag nie?”
“Nee Sersant” , antwoord die soldaat, “ek het gedink om vandag liewer hier te bly en tyd saam met die Here deur te bring.”
Geamuseerd merk die sersant op: “Dit lyk vir my meer asof jy besig is om kaart te speel!”
“Nee, sersant sien, ons word mos nie toegelaat om ons Bybels in hierdie land in te bring nie, en nou leer ek meer van die Here met hierdie pak kaarte.”
“Hoe is dit moontlik?” , vra die sersant.
“ Kyk, die A herinner my daaraan dat die God van die Bybel net Een God is. Daar in Hebreërs 1, vers 1, sê Hy mos dat Hy op baie maniere met ons as mens gesels en Homself geopenbaar het, maar in “die laaste dae” het Hy Homself aan ons kom openbaar as God die Seun, wat in die Persoon van Jesus van Nasaret, mens geword het, in die dorpie, Betlehem, daar in Israel gebore is. Volgens die nuutste navorsing is Hy in September 3vC gebore, heelwaarskynlik op die Joodse Nuwe Jaar, Rosh Hashanna, daardie jaar. Ja, en die hele wêreld herdenk Sy geboorte as mens in Desember van elke jaar.
Die Twee wys op die twee dele van die Bybel, die Ou en die Nuwe testament.
Die Drie herinner my aan God Drie-Eenheid wat Homself in die Bybel openbaar as Vader, Seun en Heilige Gees.
Die Vier herinner my aan die vier Evangelies in die Bybel: Matteus, Markus, Lukas en Johannes. In hierdie 4 boeke leer ken ek en jy vir God die Seun, Jesus, wat ’n mens geword het en hier tussen ons op aarde vir sowat 33 jaar gewoon het. In hierdie 4 boeke hoor ons van Sy lewe, alles wat Hy gedoen en gesê het, maar ook van Sy dood aan ’n kruis vir my en jou, sodat ons Lewe en dit in oorvloed kan ken en beleef. Maar ons lees ook hoe Hy opgestaan het en nou Verlosser en Here is vir elkeen wat dit glo. Hy is ook die Koning van alle konings en Here van alle here. En totaal in beheer van elke dag in my lewe.
Die Vyf herinner my aan die vyf maagde – daar was eintlik tien, maar net vyf was gereed en het God se genade en die Hemel ontvang.
Die Ses dui op die ses dae waarbinne God die Hemel en die Aarde, ja, die hele skepping soos ons dit steeds vandag meer en meer van ontdek, geskape het deur net ’n woord te spreek.
Die Sewe herinner my aan die Sewende dag wat God eenkant gesit het om te rus, sodat ek en jy nooit slawe hoef te wees wat sewe uit sewe dae van die week hoef te werk nie, want ons het ’n God wat vir ons sorg.
Die Agt herinner my aan wat die Bybel ons vertel van Noag, sy vrou, hulle drie seuns en hulle vroue. Hulle was die enigste agt mense wat God destyds gespaar het in die sonvloed.
Die Nege herinner my aan die nege melaatses wat Jesus genees het. Hy het eintlik tien genees, maar nege het nooit terug gekom om ook dankie te sê nie.
Die Tien herinner my aan hoe God die Tien Gebooie wat God op twee klipplate neergeskryf het en vir Moses gegee het om vir Sy volk presies te sê hoe Hy wil hê hulle leef as Sy volk sodat hulle anders kan lyk en anders kan wees as al die ander volke rondom hulle.
Die Jack herinner my aan Satan. Die Bybel vertel vir ons dat hy ook eens ‘n Engel van die Here, was, maar as gevolg van rebellie en opstand teen God, en sy leuens waarmee hy meer as ’n derde van die ander engele verlei het, is hy en hierdie afvallige engele uit die Hemel geskop en nou is hy en hierdie demone ons onsigbare vyand waarvan ons lees in Efesiërs 6. Ja, ons stryd is nie teen vlees en bloed elke dag nie, maar teen hierdie onsigbare vyand en teëstander elke dag.
Die Koningin herinner ons aan die Bruid van God, God se Ekklesia, Sy Kerk hier op aarde, wat bestaan uit alle gelowiges wat gelowig en gehoorsaam wag dat Hy weer terugkom om haar te kom haal.
Die Koning herinner my aan Jesus, die Koning van alle konings en die Here van alle here, voor wie elke knie sal buig en elke tong uiteindelik Sy Naam sal bely.
Weet, Sersant, as ons al die simbole op hierdie kaarte tel, is daar presies 365; een vir elke dag van die jaar. Dit herinner my daaraan dat God my elke dag beskerm en elke dag by my is.
Daar is ook 52 kaarte in so ’n pak kaarte. Een vir elke week van die jaar, wat my herinner aan hoeveel tyd ek het om vir die Here iets te doen.
Daar is ook vier stelle in so ‘n pak: die “Spade” of skoppensaas, Harte, Diamante, en Klawers, wat die vier seisoene: somer, herfs, winter en lente, verteenwoordig, wat God se in reëlmaat in stand hou. Dit herinner my aan hoe God in beheer van alles is.
So, as ek behoefte het om met die Here te praat, of graag Sy stem wil hoor, haal ek net my pak kaarte uit, en dan sien ek hoe baie ek het om voor dankbaar te wees”
Die sersant was vir ‘n hele ruk doodstil.
Toe vra hy met trane in sy oë: “Sjoe, Soldaat, ek besef nou net hoe graa ek ook hierdie God se stem wil hoor praat met my! Kan ek ook so ’n bietjie jou pak kaarte leen?"